top of page

GEDRAGSKODE

KLIK OP DIE SKAKEL OM TE SPRING NA DIE AFDELING

Opgestel in ooreenstemming met die voorskrifte gestel deur

Die Suid-Afrikaanse Skolewet

(Wet 84 van 1996 soos gewysig deur Wet no. 31 van 2007)
soos onderskryf deur die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op

Skoolonderwys
(Wet 12 van 1997)

​

  • Te enige tyd of plek word van elke leerder verwag om vriendelik, behulpsaam en met die nodige eerbied en respek teenoor onderwysers en lede van die publiek op te tree.

  • Leerders moet voorbeeldig en ordelik optree volgens die algemeen aanvaarde gedragsnorme van die skoolgemeenskap. Leerders moet dan ook getrou wees aan hul skool, hul skool lojaal ondersteun en altyd hul skool se naam hoog hou.

  • Leerders moet alle opdragte van onderwysers nakom, alle wettige opdragte van die VRL en klasverteenwoordigers uitvoer en die skoolreëls en skoolreëlings stiptelik nakom.

  • Indien leerders enige van hierdie reëls of reëlings nie sou nakom nie, sal daar teen sodanige leerders opgetree word en wel op die wyse soos onder die Tugmaatreëls vir Leerders, in dié dokument aangedui.

  • Daarteenoor word leerders wie se gedrag voorbeeldig is en wat op watter wyse ook al ‘n bydrae lewer om die skool se naam uit te bou, daarvoor erkenning gegee, deurdat so ‘n leerder self daartoe bydra om ‘n goeie getuigskrif te verkry wat ‘n groot rol speel by skoolverlating as aanbeveling tot ‘n werkaansoek of tot beurse en verdere studie.

​​

SKOOLREËLS

1. GEDRAG OP DIE SKOOLTERREIN EN BUITE DIE SKOOL
(a) ‘n Leerder moet deelneem aan die opvoedingsprogramme soos deur die Onderwysdepartement voorgeskryf, tensy vrystelling deur die Departement verleen is.
(b) Wanneer ‘n leerder hom vrywillig by ‘n buitemuurse skoolbedrywigheid aangesluit het, moet hy sy verpligtinge en verantwoordelikhede in verband daarmee stiptelik nakom, tensy hy deur die skoolhoof/gedelegeerde daarvan vrygestel word.
(c) Leerders mag geen fasiliteite en toerusting van die skool, met inbegrip van dié vir sport, buite skoolure/amptelike buitemuurse tye, sonder die toestemming van die skoolhoof gebruik nie en mag nie buite skoolure/amptelike buitemuurse tye, sonder
verlof die skool se terrein betree nie.
(d) Geen leerders mag minagting teenoor die skool en land, of hul kodes en simbole, openbaar nie.

(e) Leerders woon die skool by volledig geklee in skooldrag van die betrokke seisoen.
(f) Die bestuur van motors, deur leerders, op die skoolterrein is verbode.
(g) Motorfietse moet op die naaste parkeerplek aan die motoringang (by die rugbyveld) parkeer word en fietse word in die vierkant agter die mediasentrum parkeer.
(h) Geen leerders mag die skoolterrein gedurende skoolure of pouses verlaat nie, behalwe met skriftelike toestemming van die ouer sowel as die verlof van die skoolhoof/gedelegeerde.
(i) Na afwesigheid tydens ’n eksamen of toetse moet ‘n mediese sertifikaat ingelewer word, andersins sal sodanige leerder die verkryging van ‘n punt vir deurlopende evaluering verbeur. Indien ‘n leerder die oggend afwesig is, mag hy/sy nie die middag aan enige buitemuurs deelneem nie. Geen leerder sal toegelaat word om aan buitemuurse bedrywighede (wedstryde/kompetisies) deel te neem indien hy/sydie vorige dag afwesig was nie.
(j) Bakleiery/vuiltaal/afknouery/intimidasie/viktimisasie op die skoolterrein is ontoelaatbaar.
(k) Geen fisiese kontak tussen leerders van dieselfde of teenoorgestelde geslag binne of buite die skoolterrein is toelaatbaar op enige tyd en plek terwyl leerders in skooldrag/-skoolsportdrag geklee is nie.
(l) Die gebruik van kougom op die skoolterrein is te alle tye verbode, of buite die skoolterrein waar die leerders in skool- of sportdrag is. Leerders mag ook nie gedurende skooltye, behalwe pouses, eet of enige aankope maak nie.

(m) Alle vandalisme moet vermy/gerapporteer word (veral ook ten opsigte van skoolbanke wat leerders se trots moet wees).
(n) Ander se eiendom moet te alle tye gerespekteer en met rus gelaat word.
(o) Enige gevaarlike speletjies, insluitende die gooi van harde voorwerpe na ‘n ander leerder, is verbode.
(p) Alle skole is dwelm- en geweldvrye sones. Geen alkoholiese drank, dwelmmiddels, onwelvoeglike leesstof/-materiaal word op die skoolterrein toegelaat nie. Dit mag ook nie in besit van ‘n leerder wees of aan ‘n ander gee word nie. Hoewel marijuana wettig verklaar is in privaat ruimtes, is die skool openbare ruimte en bly die besit of gebruik van marijuana steeds onwettig. Deursoeking en dwelmtoetsing sal dus binne regulasies plaasvind.
(q) Drankgebruik en rook deur leerders op die skoolterrein of waar die skool verteenwoordig word, is streng verbode. Dit sal ook in ‘n ernstige lig beskou word indien ‘n leerder hom te enige tyd in enige openbare plek, behalwe onder toesig van sy ouers, hieraan skuldig maak.
(r) Wanneer leerders in die saal vergader vir amptelike verrigtinge moet absolute stilte gehandhaaf word. Geen onderlinge gesels is toelaatbaar nie.
(s) Selfone en ander digitale klank apparaat mag slegs voor en na skool, asook tydens pouses aangeskakel wees. Sodanige apparaat moet liefs tuis gelaat word.Indien dit wel skool toe gebring word, moet dit duidelik gemerk wees aangesien dit ingehandig moet word tydens periodes.

(t) Ontgroening en al die alternatiewe vorme daarvan word nie by die skool of koshuis toegelaat nie. Die amptelike skoolbekendstellingsprogram, deur die leerderraadslede en skakel-onderwysers geïmplementeer, is egter toelaatbaar.
(u) Geen leerder mag op enige wyse die naam van sy skool in diskrediet bring nie.
(v) Leerders wat na-ure in skooldrag of ‘n gedeelte van die skool se drag geklee is, bly onderhewig aan die skool se gedragskode en kan daarvolgens vervolg word indien die skool se beeld in diskrediet gebring word.
(w) GRAAD 12-LEERDERS
Graad 12-leerders is by uitstek die skool se trots en daarom word van ‘n Graad 12- leerder verwag om volwasse op te tree en die skool se beeld na buite spesiaal gunstig uit te dra.
VOORREGTE
Leerders mag die amptelike Graad 12 bostuk aanhê, met volle skooldrag daar onder.
(Hierdie reëling geld egter nie tydens die Senior sertifikaat eksamen nie.)

​​

RAPPORTERING

Soos in die geval van landswette, word van elke leerder verwag om die oortreding van skoolreëls/-skoolreëlings onverwyld aan leerderraadslede/onderwysers te rapporteer. (Indien verkies, sal sodanige leerders se identiteit anoniem gehou word.)
 

ALGEMENE NETHEID

2. ALGEMENE NETHEID
(a) Leerders moet onder alle omstandighede netjies en skoon geklee wees in die korrekte skooldrag.
(b) Die dra van juweliersware soos byvoorbeeld armbande, ringe en kettinkies is verbode. Indien ‘n dogter gaatjies in die ore het, mag sy alleenlik goue of silwer ringetjies (maksimum deursnee 1,3 cm) of goue of silwer of pêrel knoppies (maksimum deursnee 0,5 cm) as oorbelle dra. Die oorbelle moet sonder enige versiersel wees. Slegs een oorbel per oor is toelaatbaar en in die onderste gaatjie, waar meer as een gaatjie per oorbel is.
(c) Leerders mag geen grimering òf gekleurde naellak aanwend nie. Kleurlose naellak is wel toelaatbaar.
(d) Truie en baadjies mag nie om die heupe gebind word nie. Die moue van truie mag ook nie oor die hande getrek word of opgestoot word nie. Truie mag nie bo-oor mekaar aangetrek word nie.
(e) Hempsmoue, in somertyd, moet netjies opgerol word tot net bokant die buig van die arm.
(f) Seuns moet gereeld skeer. Geen snorre of baarde word toegelaat nie. Seuns wat nie geskeer is nie, sal van ‘n nuwe skeermes voorsien word en verplig word om tydens skooltyd te skeer. Geen kepe mag in wenkbroue geskeer word nie.
(g) Slegs ‘n leerder se naam mag aan die buitekant van sy tas aangebring word.

(h) Tasse moet van so ‘n aard wees dat die handboeke beskerm word. Beskadigde of verlore handboeke sal aan die einde van ‘n bepaalde jaar deur ‘n leerder (op eie koste) vervang moet word.
(i) Skoolserpe is in die winter toelaatbaar.
(j) Skoolskoene moet gereeld gepolitoer word en netjies vertoon.
(k) Leerders moet gedurende die winterseisoen elke dag ‘n baadjie dra.
(l) ‘n Leerder mag nie ‘n donkerbril op die skoolterrein dra of enige plek waar die skool verteenwoordig word nie, tensy ‘n mediese sertifikaat in hierdie verband vooraf aan die skoolhoof voorgelê is.
(m) HARE - DOGTERS
i) Indien die dogters se hare oor die kraag hang, moet dit gevleg of gebind word in maksimum twee poniesterte wat so na as moontlik aan die kop vasgemaak is.
ii) Alleenlik rekkies of bottelgroen, swart of geel linte mag vir dié doel gebruik word. Haarbande (materiaalband sowel as ‘n aliceband) moet ‘n soliede rekband of plastiek wees in bottelgroen, swart, wit, geel of koningsblou en dit moet effekleurig wees sonder enige versierings.
iii) Indien kuiwe laer hang as die wenkbroue, moet dit weg van die voorkop vasgesteek word. Geen hare mag langs die gesig hang nie.
iv) Permanente karteling van die hare is nie wenslik nie. Indien hare gekleur word, moet dit so natuurlik moontlik lyk. Highlights moet
natuurlik aansluit by natuurlike haarkleur.
v) Style moet aanvaarbaar wees vir die gemeenskap, skool en personeel.
vi) Geen opmerklike stileringsprodukte mag gebruik word nie.
vii) Invlegsel moet funksioneel wees en nie dekoratief nie. Dit mag net tot in die middel van die rug hang. Dit mag nie te dik wees nie en
moet gemaklik vasgemaak kan word. Dit mag nie in ‘n groot hoë bolla bo-op die kop vasgemaak word as dit die sig van leerder agter hul beinvloed nie.

(n) HARE - SEUNS
i) Seuns se hare moet netjies en kort wees.
ii) As ‘n seun regop staan, mag die hare agter nie die kraag raak nie.
iii) As die hare regaf gekam sou word, mag die hare nie aan die ore of wenkbroue raak nie.
iv) Die hare mag nêrens ‘n oordrewe rand vorm nie.
v) Bakkebaarde (‘sidies’) mag nie laer as die onderkant van die oorgat wees nie.
vi) Style moet aanvaarbaar wees vir die gemeenskap, skool en personeel.
vii) Indien hare gekleur word, moet dit so natuurlik moontlik lyk. 

viii) Geen opmerklike stileringsprodukte mag gebruik word nie.
ix) Permanente karteling van die hare is verbode.
x) Geen patrone mag in hare ingeskeer word nie.

​

SKOOLDRAG

3. SKOOLDRAG: DOGTERS
Somer (van ±1 Oktober tot ± 30 April van die volgende jaar)

  • Bottelgroen skoolromp (die soom van die romp mag nie hoër as 15 cm van die knieë wees nie, wanneer kniel op vloer).

  • Groen skooltrui (indien nodig).

  • Groen skool oortrektrui (pull over)

  • Wit kort sokkies (slegs een keer omgeslaan tot 'n hoogte van ongeveer 10 cm bokant die bo-rand van die skoen).

  • Bottel/donkergroen/swart vol broekie - Geen “ski-pants” nie

  • Swart poleerbare skoolskoene (bandjie-oor-die-voet tipe of vetertipe).

  • Geen “pumps” nie.

 

Winter (van ± 1 Mei tot ± 30 September)

  • Bottelgroen skoolromp - (die soom van die romp mag nie hoër as 15 cm van die knieë wees nie, wanneer kniel op vloer). Die snit van die romp is so dat die boonste band op die heupe moet wees.

  • Grys skoollangbroek

  • Wit langmouhemp met stywe toeknoop kraag.

  • Groen skooloortrektrui (pull over) - slegs saam met skoolbaadjie en das

  • Skooldas is verpligtend - slegs by langmouhemde waarvan moue afgerol is as die baadjie uitgetrek is.

  • Skoolserp (groen)

  • Bottelgroen skoolbaadjie verpligtend.

  • Swart ondeursigtige broekiekouse sonder patrone of lang grys skoolsokkies netjies omgevou tot onder die knie.

  • Swart poleerbare skoolskoene - (bandjie-oor-die-voet tipe of vetertipe).

  • Groen trui onder baadjie indien nodig – moue mag nie oor hande hang nie.

  • Bottel/donkergroen/swart vol broekie. Geen “ski-pants” nie.

​

4. SKOOLDRAG: SEUNS

Somer (van ±1 Oktober tot ± 30 April van die volgende jaar)

  • Grys skool lang- of kortbroek.

  • Skool oortrektrui (groen)

  • Wit kortmouhemp of wit langmouhemp (moue moet omgeslaan word tot bokant buig van arm).

  • Indien moue afgerol is, moet ‘n das gedra word.

  • Grys skoolsokkies (te alle tye netjies opgetrek tot net onder die knie).

  • Swart tradisionele skoolskoene met swart sole (poleerbaar)

  • Groen skooltrui indien nodig.

  • ​

  • Winter (van ± 1 Mei tot ± 30 September)

  • Grys skool lang- of kortbroek.

  • Wit langmou hemp met stywe toeknoopkraag.

  • Skooldas is verpligtend- slegs by langmouhemde waarvan moue afgerol is as die baadjie uitgetrek is.

  • Skoolserp (groen)

  • Bottelgroen skoolbaadjie verpligtend.

  • Groen trui, onder baadjie, indien nodig. Moue mag nie oor die hande hang nie.

  • Skooloortrektrui (pull over) slegs saam met skoolbaadjie.

  • Swart gordel met onversierde gespe.

  • Grys skoolsokkies - nie rugbysokkies of wit sokkies nie.

  • (Toegewings t.o.v. skooldrag moet nie as skooldrag beskou word nie.)

  • Alle kledingstukke moet op die normaal aanvaarbare wyse gedra word, soos bv. hemde wat ingesteek is.

​

5. KLEREDRAG NA SKOOLURE
Van leerders word verwag om die vereiste skooldrag aan te hê, goedgemanierd en netjiesgekleed te wees. Die volgende vereistes is van toepassing op:
a) SPORTSPANNE – TUIS- EN WEGWEDSTRYDE

  • Seuns: Skooluniform, Geborgde sportdrag of skool sweetpak met toe rits sluiters en toe hardloopskoene.

  • Meisies: Sportdrag en kleurbaadjie, Geborgde sportdrag of skool sweetpak met toe ritssluiters en toe hardloopskoene.

  • Toeskouers/Ondersteuners tydens wedstryde: Skooldrag/skool sweetpakke

b) Formele skoolfunksies: Skooldrag
c) Leerders op pad skool toe/huis toe: Skooldrag of amptelike skool sweetpak.
d) Verlof tot afwesigheid van buitemuurse verpligtinge moet vooraf by die betrokke onderwyser/skoolhoof verkry word.
e) LET WEL: Leerders mag in die namiddae die skoolterrein betree met ontspanningsdrag. Hierdie drag moet egter te alle tye aan die norme van goeie smaak voldoen.

​

6. SPORTDRAG
6.1 Sweetpak (opsioneel).


6.2. LO - Dogters en seuns

6.2.1. Liggaamlike Opvoeding Bottelgroen/swart LO-broek en groen voorgeskrewe LO hemp

​

6.3. Verskillende sportkodes drag

                                                                         6.3.1. Netbal                                                                                   6.3.2. Rugby
                                                                   Netbalklere                                                                                 Voorgeskrewe rugbytrui
                                                             Wit kort sokkies                                                              Bottelgroen kommersiële rugbybroek
                                                Drafskoene (oorwegend wit)                                                                      Skool rugbysokkies
                                                                                                                                                                                         Rugbystewels

                                                Bottel/donkergroen of swart                                                            Bottel/donkergroen of swart
                                      vol broekie (ski-pants) mag onder die                                         vol broekie (ski-pants) mag onder die
                                       rompie/rokkie gedra word, maar mag                                     rugby broekie gedra word, maar mag nie
                                                nie daaronder uitsteek nie.                                                                   meer as 5cm uitsteek nie.
                                     Geborgde sportdrag onderhewig aan                                              Geborgde sportdrag onderhewig aan
                                       goedkeuring van personeel en BHL                                                   goedkeuring van personeel en BHL
                                                            is aanvaarbaar.                                                                                           is aanvaarbaar.

​

                                                                                                                                     6.3.3. Atletiek
                                                            Groen LO hemp                                                                                          Groen LO hemp
                                              Groen/swart LO-kortbroekie                                                              Bottelgroen/swart LO-broek
                                                                        OF                                                                                                                      OF
                                             Voorgeskrewe atletiekfrokkie                                                           Voorgeskrewe atletiekfrokkie
                                                             en -broekie                                                                                                     en –broekie
                                               Bottel/donkergroen of swart                                                             Bottel/donkergroen of swart
                                             vol broekie (ski-pants) mag ook                                               vol broekie (ski-pants) mag onder die
                                                              gedra word                                                                    atletiek broekie gedra word maar mag nie

                                                                                                                                                                             meer as 5cm uitsteek nie.

Seuns: Tydens deelname aan ‘n item, mag die seuns wat die vol broekie (ski-pants) onderaan het, die kortbroek uittrek.

​

6.3.4 Krieket

  • Groen LO hemp of geborgde kriekethemp

  • Wit lang- of kortbroek

  • Skool rugbysokkies indien kortbroek

  • Oorwegend wit sportskoene/drafskoene/krieketskoene

6.3.5 Tennis

  • Goedgekeurde tennisklere/Geborgde tennisklere

6.3.6 Hokkie

  • Hokkieklere (Selfde as die Netbalklere)

  • Rugby sokkies

  • Drafskoene/Hokkieskoene

  • Bottel/donkergroen of swart vol broekie (ski-pants) mag onder die rompie/rokkie gedra word, maar mag nie daaronder uitsteek nie.

  • Eerstespan se geborgde drag is onderhewig aan die goedkeuring van die personeel en Beheerliggaam.

6.3.7 Pette

  • Slegs die goedgekeurde blou HSV pet en pek mag gedra word.

6.3.8 Skoolsweetpak

  • Word gedra soos voorgeskryf en aangeteken in skoolreëls

6.3.9 Skoolsportsak

  • Soos goedgekeur deur personeel en Beheerliggaam.

  • Skool- en sportdrag is beskikbaar by die skool, Matzikama Sport en De Jagers op Vredendal.

6.4 AFWYKING VAN DIE VEREISTE SPORTKLERE
Slegs die 0/19A-spanne mag van die voorgeskrewe drag afwyk op goedkeuring van die beheerliggaam en as die borg die volle onkoste van die uitrusting vir minstens 2 jaar dra.

 

​​

skoolreëls
Algemene netheid
skooldrag
Anchor 1
bottom of page